‘n Krismis storie

Ek het ‘n Indoniesiese bruidskas. Dit is ‘n driehoekige kassie met laatjies.

Die bruidegom gee vir die bruid die kassie as geskenk en dan sit hy ‘n geskenk in elke laai, vir die week voor die troue maak die bruid elke dag ‘n laai oop met ‘n geskenk.

Elke jaar Kersfees maak ek al die laaitjies vol met verskillende lekkergoed. Ek hang ‘n kersversiering aan elke knoppie en as daar kinders kom kuier dan help hulle hulself uit die laaitjies.

So besluit ek toe om een jaar candy canes aan die kassie te hang. Ek soek wyd en syd en kry uiteindelik canddy canes wat klein genoeg is om aan die kassie te hang by ‘n bekende supermark.
Ek gaan staan in die ry en toe ek by die toonbank kom sit ek my candy canes so selfvoldaan op die neer en glimlag vir die kassier.

Die kassier kyk my uitdrukkingloos aan. Sy sê vir my: “Smaak kak” My mond val oop, ‘n honderd en tien gedages flits deur my kop, een is: iewers het iemand al vir my gesê die candy canes is nie altyd lekker nie. Ek sê vir die kassier: ” Ag moenie worry nie ek gaan dit nie eet nie”, sy kyk my nog meer uitdrukkingloos as die vorige keer aan: “Smaak kak” sê sy weer vir my. Ek sê: “Ja , ek weet dit is sleg ek gaan dit aan my Kersboom hang”…hoe verduidelik ek haar nou van die kas en die laaitjies en my liefde vir Krismis.

Sy kyk my weer ‘n derde kyk; maar hierdie keer kyk sy diep in my siel en sy sê vir my: MEVROU! Ek vra of jy ‘n Smart Card het!
Toe haal ek baie gehoorsaam my smart card uit en betaal vir my candy canes. Ek dink dit is nou vier jaar gelede en ek kon nog nie die candy canes eet nie, ek bêre hulle maar elke jaar en elke jaar hang ek hulle voor die kassie en lag oor hulle so sleg smaak….

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *